Smoothies
Wat 'n lekker drankie is smoothies nie net nie. Verbeel jou, 4 van jou gunsteling vrugte saamgevoeg in een glas, saamgepers om 'n heerlike drankie te vorm wat jou dors sommer maklik kan les.
Hoe klink dit vir jou? 'n Heerlike vrugte drankie op 'n warm somersaand buite om 'n braaivleisvuur of sommer net vir ontbyt. Klink vir my na 'n bak plan of hoe!
So baie mense in vandag se lewe dink daar is nie genoeg tyd in die dag om gesond en lekker te eet en drink nie. Dit is soveel makliker om net gou by die winkel te stop oppad terug van die werk af en te koop wat jy nodig het. 'n Gevriesde lasagne of pastei van die een of ander aard wat jy dan binne 10 minute in die mikrogolfoond kan voorberei. Klink dit na pret? Beslis nie.
Dan sal jy ook vir my se dat dit moeilik is om voltyds te werk en nog 'n lekker gesonde ete voor te berei. Maar dit is moontlik. Ek is self 'n werkende ouer maar maak 'n punt daarvan om elke dag te kook en te sorg dat my gesin gesond eet.
Smoothies is maar net een maklike manier om sommer 2,3 of selfs 4 van jou vrugte per dag in te neem. Een van my gunstelinge is arbeie gemeng met 'n piesang, gesnyde mango en 'n paar druiwe. Dit smaak heerlik as jy dan ook 'n houer vol ys hierby fynmaak.
Dit bevat meeste van die vitamienes wat jy vir die dag benodig. Geniet dit as ontbyt of saam met 'n lekker hoenderslaai in die aand. As jy die hoender die vorige aand gaarmaak en in die yskas sit, kan jy net die blaarslaai sny en tamaties, komkommer, avokado en feta hierby meng en daar het jy 'n lieflike slaai. Slaaisous is natuurlik opsioneel, afhangende van jou smaak.
Probeer gerus om jou gunstelinge vrugte bymekaar te meng en geniet!